Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 08 MEI 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

MEI 2011 RA-EKSAMENNOMMERS VANDAG OP DIE WEB

SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM GAAN VOLSTOOM VOORT

VS STUDIE WYS DAT GEEN SPEKTRUMTEKORT BESTAAN NIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

MEI 2011 RA-EKSAMENNOMMERS VANDAG OP DIE WEB

Die Mei 2011 RA-eksamennommers sal vanaf 12:00 vandag (Sondag 8 Mei 2011)op die webblad beskikbaar wees. Sal alle kandidate asseblief nagaan of hul eksamenlokale korrek is en indien daar foute of navrae is, môre, Maandag, met Mariska skakel by die SARL-kantoor. ’n Brief sal per e-pos aan alle kandidate gestuur word om hul inskrywing vir die eksamen te bevestig.

SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM GAAN VOLSTOOM VOORT

SA AMSAT berig dat sy Ruimtesimposium volstoom voortgaan op Saterdag 21 Mei 2011. Na ’n ooreenkoms met Sentech sal die ouditorium by Radiokop die vergaderplek wees met die SARL se Nasionale Amateurradiosentrum as die plek vir verversings en middagete.

Die nuwe reëling het ’n aansienlike vermindering in die registrasiefooi meegebring wat tans R75 is vir SARL- en SA AMSAT=lede indien voor 15 Mei 2011 bespreek word. Studente en leerlinge sal gratis kan bywoon mits ’n studentekaart of leerling-ID tydens registrasie verskaf kan word.

Die konferensie sal geopen word deur die HUB van die Suid-Afrikaanse Nasionale agentskap, Sandile Malinga. John Willescroft, ZS6EF, sal die ontwikkeling van ’n totaal nuwe konsep wat die loslating van sonpanele vanuit SAiSAT sal toelaat, demonstreer.

Vir nadere besonderhede, registrasievorms en ’n program besoek www.amsatsa.org.za.

VS STUDIE WYS DAT GEEN SPEKTRUMTEKORT BESTAAN NIE

Die Nasionale Vereniging van Uitsaaiers (NAB)in die Verenigde State het ’n studiestuk vrygestel wat beweer dat daar geen spektrumkrisis bestaan nie. Volgens die NAB wys die navorsing dat daar onvoldoende analise asook steun op foutiewe inligting in die opstelling van die FCC se Nasionale Breëbandplan was wat gelei het tot die aanname dat daar ’n nasionale tekort aan spektrum vir toekomstige breëbanduitbreiding sal wees. NAB sê dat dit nie die geval is nie.

Die Withuis, die FCC en menige in die draadloosindustrie het die spektrumkrisis gebruik as regverdiging vir beleid wat die verskuiwing van TV-frekwensies vir mobiele breëbanduitbreiding sou toelaat. Maar uitsaaiers het gesê dat daar geen manier sal wees dat hulle gewilliglik ’n enkele Hertz aan die breëbandspektrum sal afstaan nie.

Die verslag, opgestel deur 'n vorige FCC-werknemer, is in die week van 26 April vrygestel. Dit kom kort op die hakke van die NAB se onlangse verklaring dat die uitsaaigroep in volle gevegsmodus is om die heruitgawe van die uitsaaispektrum na die breëbandverskaffers stop te sit.

In Suid-Afrika is 'n soortgelyke situasie aan't broei wanneer TV na digitale uitsendings gaan oorskakel en huidige frekwensies beskikbaar sal word vir ander dienste. By 'n onlangse werkswinkel deur OKOSA gereel, het OKOSA gesê dat hulle ander planne het as om dit sommer aan breëbandverskaffers te oorhandig.

'n ANDER SARL

"n Ander organisasie gebruik die afkorting SARL; hulle is die SA Racing League. Hulle webblad is www.sarl.co.za. Ons, die Suid-Afrikaanse Radio Liga se webtuiste bly egter www.sarl.org.za.

Nou twee items verkry uit WIANews:

INLIGTING-SUPERHOOFWEG

Hierdie is ’n vertaling van ’n artikel wat in die Yorkshire Post van 3 Mei verskyn het.

“In stede van deur die lug te sweef, is die meeste van die inligtingsuperhoofweg werklik onder water.

U mag verbaas wees om te weet dat hierdie globale kommunikasiestelsel in die VK naby ’n klein dorpie op die kus van Yorkshire uit die water kom.

Indien u gedink het dat die internet hoofsaaklik van satelliete, wat om die aarde wentel, afhanklik is, dink weer.

Die globale kommunikasiestelsel maak staat op ou onderseese kabelroetes wat van die 1800s dateer.

Tweehonderd en vyftig onderseese kabelstelsels voorsien die ruggraat vir die meeste van vandag se kommunikasiestelsels. Nog 19 behoort vanjaar in bedryf te kom.

Minder as vyf persent van ons hoogs tegniese netwerk word via satelliete bedryf, met vesel verantwoordelik vir die meeste van die res.

Die 19de eeuse ekwivalent van die inligtingsuperhoofweg sou ’n probleem gehad het om by te bly. Die eerste oorsending deur die transatlantiese kabel in 1858 was ’n boodskap van van Koningin Victoria aan President Buchanan van die VSA wat uit 98 woorde bestaan het en 16 uur in beslag geneem het om oor te sein!

Vyftien jaar later is die eerste kommersiële boodskap deur die transatlantiese kabel gestuur. Die koste was die koninklike bedrag van £20 vir 20 woorde, wat ongeveer in hedendaagse terme, £900 bedra!

Teen 1870 kon inligting teen ongeveer 10 w.p.m. gestuur word.

Kenners van Tolstoi moet kennis neem dat dit 37 dae sou neem om een kopie van War & Peace te versend.

Vandag beweeg inligting teen weerligspoed. Boodskappe kan met die klik van ’n muis gestuur word.

Dit word geraam dat daar tussen 100 en 150 kabelfoute jaarliks voorkom. Bykans helfte van die foute is as gevolg van visserybedrywighede, maar aardbewings kan ook foute en onderbrekings veroorsaak.

Verskeie dinge het nie gedurende die laaste 150 jaar verander nie. Die metode om foutiewe kabels by te kom het dieselfde gebly. Hulle word uitgelig deur ’n groot haak aan ’n tou wat tot 8 km lank kan wees . Die Die tou is duurder as die kabel wat dit moet gryp!

Dus die volgende keer wat u verbind, bid dat ’n haai met ’n kragkompleks nie daar in die diepte aan ’n kabel kou nie!

MUSIEK ONDER DIE STORT

Die wêreld se eerste stortaangedrewe radio kom van die VK-gebaseerde Tango-groep, dieselfde groep wat die opwenradio gekommersialiseer het.

Die radio word geheel-en-al deur jou stortbad van krag voorsien.

Die H2O-radio gebruik ’n gepatenteerde mikroturbine wat deur watervloei aangedryf word.

Die gerieflike en energiedoeltreffende stortaangedrewe radio beteken dat gebruikers na hulle geliefde radiostasies kan luister terwyl hulle stort.

Die radio is evens meer gerieflik aangesien dit herlaai word terwyl die stort aan die gang is en dus die nodigheid van weggooibare batterye uitskakel.

Verder, gebruikers kan nog luister nadat die stortkrane toegedraai is deurdat surplus energie in die ingeboude NI-Mh batterye gestoor is.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonaktiwiteit op lae vlakke is. Tans is daar nie 'n kans vir ernstige sonfakkels nie. Sonvlekke 1 203 en 1 204 is die hoofdis op die son se sigbare oppervlak. Nuwe sonvlek 1 207 is tans 'n eenvoudige sonvlekgroep. Vir diegene wat hulle eie frekwensies voorspel, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week sowat 45.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

21 Mei - SA AMSAT simposium by NARS te Radiokop.
18-22 Mei - Volg Dayton Hamvention op W5KUB.com.
25 Mei – Sluitingsdatum vir nominasies vir NSN-toekennings, besoek www.amateurradio.org.za.
18 Junie - kursus in programmering in Windows in Gauteng. Bespreek by www.sarl.org.za.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Gustav, ZS6BWN.

Dankie dat u geluister het. 73.
/EX





======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003